Friday, March 30, 2012

Munchen







Na 'n lang vlug is ons in 'n koue en effens renerige Munich.

Ons het vinnig reg gekom met die S-Bahn treine. Dis nou die voorstedelike treine. Al klein insident wat ons gehad het toe ons oppad was vanaf die lughawe na die hotel, was dat ons op die agterste wa was. Volgens ons kaart moes ons op Neuaubing afklim, maar dit was nog eers twee stasies verder as Pasing, die stasie waar ons toe was. Miskien was ons nog te moeg na die lang vlug, of dalk te oorweldig deur die nuwe omgewing, maar ons het nie agter gekom dat ons die enigste mense oor was op die wa nie. Baie angstig het 'n Duitse mannetjie toe na ons gehardloop gekom en ons ingelig dat ons nie in hierdie wa moet wees nie, aangesien die wa afgehak is en terug gaan in die rigting van die lughawe. Ons moes toe vinnig afspring en by een van die voorste 2 waens inklim. Net toe ons af van die agterste wa was, toe vertrek die voorstes, waarin ons moes wees. Ons moes toe maar 20 minute wag vir die volgende trein na ons stasie. Van toe af weet ons om maar liewer so naby as moontlik aan die middel van die trein in te klim.


Die middag was ons na die Marienplatz "city centre" en het daar rond geloop. Van die interessante plekke in die omgewing was die Alter Peter (Church of Peter), die Frauenkirche en die Hofbrauhaus. Laasgenoemde is een van die groot biertuine in Munchen. Ons wou 'n biertjie hier gaan drink het, maar dit was baie vol en toe ons sien dat 'n biertjie omtrent 'n liter groot is, het ons besluit om maar liewer ons eers behoorlik uit te honger (of sal ek se uit te dors) daarvoor en die volgende dag terugkom.


Ek en Bianca hou van die winkels met die interessante produkte - die goed is glad nie so duur soos ons gedink het nie - sjokolade, in teendeel, is baie goedkoop hier! Ons probeer nog die water uitwerk. Dit wil vir ons voorkom asof al die water hier "sparkling" is. Na baie gesoek kry ek toe water waarop aangedui dat die "still" is. Toe ek dit egter proe, toe proe dit soos sodawater wat geskud is tot al die "sparkling" uit is. Hierdie "flou" soda water les ook nie my dors nie - in teendeel dit maak my net dorser!



Ons was baie moeg, en nog voor die son behoorlik gesak het, was die 4 Nelletjies diep in droomland!










Thursday, March 29, 2012

Beplanning...

Ons tasse is gepak - nog net 'n paar laaste minuut goedjies - dan is ons oppad lughawe toe.

Ons vlieg direk Munich toe, in Duitsland. Daar sal ons wees tot Sondag wanneer ons met die trein na Venesië gaan.


Wednesday, March 28, 2012

Ons sien nog uit....

Toe ek verlede jaar in die VSA was, het ek gereeld probeer blog en my vriende en familie op hoogte gehou van my wel en weë daar in die vreemde. Nou, bietjie meer as 'n jaar later, is ons gesin op pad Italië toe vir vakansie. Ek het toe gedink dat dit lekker sal wees om ons wedervaringe daar met almal te deel en hierdie blog geskep.

Hoop almal wat ons reis virtueel gaan meemaak sal dit baie geniet!