Saturday, April 7, 2012

Op pad na Sicily

Ons beweeg steeds suid, met ons volgende bestemming, Sicily.












Die Calabria streek is weereens, net so 'n pragtige streek met groen landskappe en pragtige kuslyne van diep blou-groen water en vriendelike strande. Hier het ons by die kusdorpie Guardia Piemontese in die hotel Zilema oornag.

Ons volgende stop was in die mees suidelike deel van Italie, Sicily. Om hier te kom, moes ons egter gebruik maak van die veerboot. Vir ons, Gautengers, wat redelik ver van enige water is, was dit nogal 'n belewenis om met motor en al in te trek op die veerboot en na 20 minute oor die see, weer op droe land (amper soos by 'n parkade in die middestad) weer uit te ry.

Sicily is duidelik baie armer as die meer noordelike deel van Italie. Maar, ook hier is die mense hartlik en gasvry - en ons sien uit daarna om ook hier meer van die "hart van Italie" te leer....

Toe braai ons in Vieste
















Ons volgende bestemming was Vieste, aan die Ooskus van Italie - wat, volgens Bianca herinner aan die stel van Mama Mia...

Maresol, ons hotel, teen 'n koppie, wat 'n pragtige uitsig oor die see het, was 'n gesellige en goed-toegeruste plek. En, bowenal, was hier (ja, jy lees reg) 'n braaier! Daarom, was Dries en Andre, wat nou vir enkele dae al lus was vir 'n lekker gebraaide skaap-tjoppie baie opgewonde en het allerande planne gemaak om 'n vleisie op die vuur te kry! Daarom is ons af na die Spar (ja, ook hier is 'n vriendelike Spar - al is jy waar!) vir 'n stukkie wors en by die "macelleria" (die slaghuis) vier "steaks" (al is dit met 'n hamsnyer gesny), 'n pak charcoal en Blitz (ook by die Spar) en 'n bottel Toskaanse wyn - wat meer kan jy vra vir 'n heerlike Boere-braai!

Vieste is redelik onbekend by toeriste, maar dit is seker een van die mooiste plekke in Italie.

En so kom nog 'n ongelooflike lekker dag aan sy einde....

Wat 'n voorreg...


Seker die mooiste deel van Italie word deur meeste toeriste mis gekyk...

Een van ons Italiaanse vriende het genoem dat hy in Riete groot geword het. Daarom het ons besluit om ons roete effens aan te pas en via Riete te ry na die verste punt op die Ooskus waar Vieste ons volgende bestemming is.

Die smal paadjies lei deur berge en dale met baie ou stadjies tussen die hange van heuwels omsingel deur die ongelooflike mooi landskappe van groen velde en vars lentebloeisels... Nie een oomblik was ons spyt dat ons besluit het om Italie in ons Pandatjie aan te durf nie! Ons het baie foto's geneem, maar ons belewenis kan nie op kamera (of selfs video) vasgele word nie. Ons weet net, om hier te kon wees, is so 'n groot voorreg!


Tussen olyfbome, monnikke en wyn....




Net die vorige dag was ons so seker daar is geen mooier plek as die Toskaanse streek nie. Maar, nou weet ons, ons het eers nou die heel mooiste plek op aarde gesien - Assisi! Assisi dateer uit honderde eeue gelede en bestaan uit baie ou geboue teen die hange van die berg. Dit is hoofsaaklik 'n godsdienstige landmerk en sluit in 'n groot monnik gemeenskap sowel as heelparty nonne kloosters.

Baie van die bouwerk dateer uit die ou Romeinse tyd uit. Assisi is die geboortplek van St Francis.

Hier het ons tussen die ou geboue, kloosters, ou kerke en kunsgallerye rond gestap. Ons het ook die Rocca Maggiore besoek - 'n baie ou kasteel wat dateer uit die ou Romeinse tyd.

Ons het die aand op 'n gasteplaas tussen die wingerde van Umbria, omring met olyfbome teen die hange van 'n berg wat 'n ongelooflike uitsig verseker, oornag.

Nog 'n ongelooflike dag in Italie....

Met die motor na Pisa



Ons doel was om die "hart" van Italie te sien- en nie net die groot toeriste stede soos Rome en Vinicia te besoek nie. Daarom het ons besluit om 'n motor te huur en die land te deurkruis.





























Nou ja, vir ons wat aan hou-links en gaan regs verby gewoont is, is dit nogal 'n aanpassing om te hou - regs en gaan links verby. Maar, ons het ons nie laat onder kry nie, en gou-gou het Dries ook hierdie vaardigheid bemeester!

Nadat ons 'n vinnige draai in Verona gemaak het, is ons met ons goud-kleurige Panda na Desenzano del Garda. 'n Pragtige plekkie in die meer area waar die rykes en vernames uithang. Hier het ons 'n vinnige middagete geniet. Daarna is ons die platteland in deur Parma (dis nou waar die ham en kaas vandaan kom) na Pisa. Redelik laat die aand het ons ons bestemming, Pisa, bereik.

Vroeg die volgende oggend het ons die bekende landmerk, die leunende toring van Pisa besoek.

Ons volgende stop was Florence - nog 'n ongelooflike mooi ou stad in die pragtige Toskaanse streek. Mens kan nie glo dat hier soveel ou argitektuur is wat vir duisende jare so goed in stand gehou is nie! Die Italianers koester regtig hul geskiedenis mooi en verseker hul nalatenskap vir toekomstige geslagte!

Die Toskaanse streek is bekend vir baie toeriste. Dit is inderdaad een van die mooiste plekke op aarde! Ons volgende stop wag in die wyn-en olyf streek, Umbria...

Monday, April 2, 2012

Venesie







Een van die plekke op meeste mense se moet-sien-lysies is Venesie - en nou, nadat ons self daar was, weet ek waarom....

Maar ek gaan nie baie se nie, want, 'n prentjie se somtyds baie meer as 'n duisend woorde...

Sunday, April 1, 2012

Op pad na Venesie

Om ses ure op die pad te wees, kan nogal later uitputtend raak, maar om vanaf Munich na Venesie vir ses ure op die trein te wees is 'n belewenis! Dis net so ongelooflik mooi!

Reeds 'n klein entjie uit Munich uit was ons al verwonderd oor die mooi, groen landskappe en toe ons eers die sneeu aan die voet van die Alpe sien, het ons nie geweet watter kant van die trein om uit te kyk nie! Alles is so groen en mooi en die klein dorpies lyk so rustig. Soms het dit vir my gevoel of die tyd hier stil gestaan het en of Heidi enige tyd hier uit die berge aangelag gaan kom!

Net so voor 2 uur het ons Mestre by Venesie bereik en is ons per taxi na ons hotel, die Novatel. Na 'n baie welkome pizza en ietsie om te drink daarby is ons na die plein daar naby. Daar hoor ons die mooiste simfonie musiek en sien toe 'n volledige orkes met derigent en al op die plein wat die mooiste musiek speel! Mense koop by die stalletjies, eet by die straatkafeetjies of drentel net rond en gesels en lag! Wat 'n lekker fees-atmosfeer!

En sowaar, daar hoor ons toe kinders Afrikaans praat - en vind toe uit dat Waterkloof Hoerskool se skoolkoor ook hier is!

Soos al die vorige dae sover, was ook hierdie dag 'n besondere aangename een!