Sunday, April 1, 2012

Op pad na Venesie

Om ses ure op die pad te wees, kan nogal later uitputtend raak, maar om vanaf Munich na Venesie vir ses ure op die trein te wees is 'n belewenis! Dis net so ongelooflik mooi!

Reeds 'n klein entjie uit Munich uit was ons al verwonderd oor die mooi, groen landskappe en toe ons eers die sneeu aan die voet van die Alpe sien, het ons nie geweet watter kant van die trein om uit te kyk nie! Alles is so groen en mooi en die klein dorpies lyk so rustig. Soms het dit vir my gevoel of die tyd hier stil gestaan het en of Heidi enige tyd hier uit die berge aangelag gaan kom!

Net so voor 2 uur het ons Mestre by Venesie bereik en is ons per taxi na ons hotel, die Novatel. Na 'n baie welkome pizza en ietsie om te drink daarby is ons na die plein daar naby. Daar hoor ons die mooiste simfonie musiek en sien toe 'n volledige orkes met derigent en al op die plein wat die mooiste musiek speel! Mense koop by die stalletjies, eet by die straatkafeetjies of drentel net rond en gesels en lag! Wat 'n lekker fees-atmosfeer!

En sowaar, daar hoor ons toe kinders Afrikaans praat - en vind toe uit dat Waterkloof Hoerskool se skoolkoor ook hier is!

Soos al die vorige dae sover, was ook hierdie dag 'n besondere aangename een!

No comments:

Post a Comment